2011/06/22

Uitgevang!

Ek moes vanoggend vir 'n wyle weg van die kantoor af wees.  (Ek sal later oor daardie frustrasie berig.)  En toe ek terugkom staan iemand op my parkeerplek geparkeer...

Eienaardig genoeg is dit gewoonlik 'n BMW of 'n Mercedese (en nou 'n Lexus) wat  om een of ander rede dink hulle kan my parkeerplek maar vat.  (Dis altyd een van die luukse motors of 'n tjor wat skaars lyk of dit nog kan ry wat op mens se plek staan.)

Ek raai die eienaars van sulke luukse motors kan lees en dat hulle dus bewustelik 'n parkeerplek 'leen' wat nie aan hulle behoort nie.  Ek wonder of hulle besef watter ongerief hulle veroorsaak.  Maar ek raai ook hulle kan rasionaliseer hoekom hulle rede goed genoeg was om iemand anders te verontrief.  Miskien moet ek maar 'n galery begin met foto's van dit wat ek op my parkeerplek aantref...

2011/06/21

Raison d'être

Die ding het so gekom.  Vroeër vanjaar het Somalië se landkode vir domeine op die Internet beskikbaar geraak.  Siende dat dit .so is, was daar ruim geleentheid vir speel.  My kop was in blog-modus en ek kon sien hoe mens domeine kon skep wat oulik daarvoor sou werk.  Dink maar aan iets soos 'supposes.so'; dan kan mens 'n blog skep met die naam 'wieookal.supposes.so'.  Ek het gehardloop en my kleim op 'n paar sulkes probeer afsteek - en 'n paar het nogal geslaag.  Kyk maar na http://imagines.so.  Dit spring tans maar net na hierdie blog, maar dit werk!  (Ek moet dit nog verander dat iets soos http://Julius.imagines.so kan werk.)  En toe sien ek 'dink.so' is beskikbaar - wat 'n ideale uitbreiding vir blogs in Afrikaans is.  Die vraag is seker hoeveel mense skryf blogs in Afrikaans.  Maar siende dat ek nou die domein het, kan ek netsowel probeer om elke dan en wan iets van my gedagtes in Afrikaan hier neer te pen...